Geplaatst

Pasen in twee Afrikaanse gedichten

Die vlieë

Die vlieë vryf hulle hanjies joods
kletserig in hulle skik
tussen die pasga-reste
van my wyn en my brood

O vlieë van Galilea
op die oë van blindes, melaatses,
en op sy helende hande
en tussen die klewerige dorings:

Ás jy die jode se koning is
kom dan áf van jou kruis!
maar iets gons in sy Agonie:
hou moed, soet Here, hou moed:

vandat U saam met Levi gedrink het
waar ons om die beker gedans het
weet ons U was God en Seun van God
en dit gaan bar wees in Galilea
sonder u Heerlike Huid –

Vaarwel, soet Jesus, outhou ons
as U aan die Regterhand sit
waaruit ons toe die wêreld begin het
óók, nietig en als, gevlie het –

Die vlieë was hulle handjies joods
volgens die voorskrif van Moses
wat Hy die Haastige met slegs drie jaar
om ’n wêreld te reinig, geïgnoreer het.

(Sheila Cussons uit Verf en vlam, 1980)

 

PIETÀ

By die beeld van Michelangelo in die Sint-Petruskerk, Rome

Hy is weer waar hy hoort, haar eerste seun:
die spanninglose liggaam weeg nog warm,
die vreemd-volwasse hoof hang oor haar arm,
sy beur haar regterknie om hom te steun.

Nou kan sy hom sorgvuldiger beskou…
die fyn ovaal van haar gelaat word weer
jonk en verwonderd soos die eerste keer:
só sal sy hom ’n leeftyd lank behou.

En weer gewaar sy: elke groot pyn bring
die stilte, peilloos, van versadiging…
al het geen ander vrou hom ooit vervreem
word alle seuns uithuisig op die duur.
Sy makkers sal hom uit haar skoot kom neem,
soos vroeër ook, maar nou’s dit nog háár uur.

(Elizabeth Eybers uit Neerslag, 1958)